Vaalbara

Vaalbara was ’n Argeïese superkontinent wat bestaan het uit die Kaapvaal-kraton (nou in Suid-Afrika) en die Pilbara-kraton (nou in Wes-Australië). E.S. Cheney[1] het die naam afgelei van die laaste vier letters van elk van kratons se name. Die twee kratons bestaan uit aardkors van 2,7 tot 3,6 miljard jaar gelede, wat Vaalbara een van die aarde se eerste superkontinente maak.[2]

Die huidige liggings van die Kaapvaal- en Pilbara-kraton.

Debat oor die bestaan

Wetenskaplikes is in ’n debat betrokke oor of Vaalbara bestaan het of nie.

Voorstelling van hoe die superkontinent Vaalbara uit die ruimte kon gelyk het.

’n Argeïes-Paleoproterosoïese skakel (2,8-2,1 miljard jaar gelede) tussen Suid-Afrika en Wes-Australië is in 1976 die eerste keer voorgestel, deur A. Button[3]. Hy het bevind daar is ’n groot aantal ooreenkomste tussen die Transvaal-bekken in Suid-Afrika en die Hamersley-bekken in Australië. Hy het Madagaskar egter tussen Afrika en Australië geplaas en tot die gevolgtrekking gekom dat Gondwana ’n lang, stabiele tektoniese geskiedenis moes gehad het. In die rekonstruksies van Rogers in 1993 en 1996[4][5] was die oudste kontinent Ur. Rogers het Kaapvaal en Pilbara egter reeds in die rekonstruksie van Gondwana ver van mekaar geplaas, ’n model wat deur latere orogenetiese gebeure weerspreek word en onverenigbaar met die Vaalbara-hipotesis is.[6]

Cheney het egter ’n drievoudige stratigrafiese ooreenkoms gevind en het voorgestel dat die twee kratons eens ’n kontinent gevorm het, wat hy Vaalbara genoem het. Hierdie model word ondersteun deur die palaeomagnetiese data van Zegers, De Wit en White.[7] Rekonstruksies van die paleobreedtegrade van die twee kratons van 2,78-2,77 miljard jaar gelede is egter twyfelagtig. In die rekonstruksie van Wingate in 1998[8] oorvleuel dit nie, maar wel in meer onlangse rekonstruksies.

Ander wetenskaplikes betwyfel die bestaan van Vaalbara en meen ooreenkomste in die twee kratons is die gevolg van globale prosesse. Hulle wys byvoorbeeld op die voorkoms van dik vulkaniese neerslae op ander kratons.[9]

Die Kaapvaal-kraton word gekenmerk deur dramatiese gebeure soos die Vredefortkoepelvoorval (2 025 miljard jaar gelede), en geen spore daarvan is op die Pilbara-kraton gevind nie – dit beteken die twee kratons moes voor 2,05 miljard jaar gelede geskei geraak het.

Verwysings

Skakels


Kontinente van die wêreld


Afrika-Eurasië

Amerikas

Eurasië

Oseanië


Afrika

Antarktika

Asië

Australië

Europa

Noord-Amerika

Suid-Amerika

Geologiese superkontinente : Gondwana · Laurasië · Pangaea · Rodinia · Ur · Vaalbara