Streltsi

Die streltsi (Russies: стрельцы; letterlik "skutters"; enkelvoud: стрелец, strelets) was die eenhede van Russiese skutterinfanterie van die 16de tot die vroeë 18de eeu en ook 'n sosiale sektor waaruit personeellede vir streltsi-troepe tradisoneel gewerf is. Hulle was ook gesamentlik bekend as streletskoje woisko (стрелецкое войско, "skutterleër") en het ander eenhede versterk. Die eerste eenhede is deur Iwan die Verskriklike gevestig as deel van Rusland se eerste staande mag.[1]

Streltsi

Plaaslike naamСтрельцы
Datum bedrywig1550-1720
LandTsaredom Rusland
SoortInfanterie
Deel vanRussiese weermag
GarnisoenMoskou
BeskermheerSint Joris
OorloëBeleg van Kazan
Lyflandse Oorlog
Slag van Molodi
Pools-Moskouse Oorlog (1605-'18)
Smolensk-oorlog
Russies-Poolse Oorlog (1654-'67)
Groot Nordiese Oorlog
Merkwaardige aanvoerdersIwan die Verskriklike
Streltsi, deur Sergei Iwanof.

Oorsprong en organisasie

Die eerste streltsi-eenhede is iewers tussen 1545 en 1550 deur Iwan die Verskriklike op die been gebring en met stutgewere bewapen. Tydens sy bewind was Rusland feitlik deurlopend in oorloë gewikkel, insluitende die Lyflandse Oorlog teen Skandinawië en die Pools-Litause Gemenebes in die noorde en oorloë teen die khanate van die suide. Hulle eerste geveg was in 1552 in die Slag van Kazan.

Aanvanklik is streltsi onder die vrye handelaars en plaaslike bevolking gewerf. Later het militêre diens in dié eenheid lewenslank en oorerflik geword. Terwyl hulle vroeër in die 16de eeu 'n elitemag was, het hulle doeltreffendheid afgeneem weens swak opleiding en 'n gebrek aan keuse met werwing.[2]

Streltsi is verdeel in "uitgekose" (выборные, wibornije), later "Moskouse" (московские); en "munisipale" (городские, gorodskije) streltsi in verskillende Russiese stede.

  • Moskouse streltsi het die Kremlin opgepas, algemene wagdienste verrig en aan militêre operasies deelgeneem. Hulle het ook polisie- en brandweerwerk in Moskou verrig.[3]
  • Munisipale streltsi het garnisoen- en grensdiens verrig en pligte vir die plaaslike regering uitgevoer.

Die streltsi se bevelvoerders en kolonels moes adellik wees en is deur die regering aangestel.

Streltsi.

Uniforms, wapens en diens

Die streltsi het eenderse uniforms, opleiding en wapens gehad. Uniforms het bestaan uit rooi, geel, blou of groen jasse (kaftans) met oranje stewels. Hulle hoofwapen was 'n stutgeweer of musket. Hulle het strydbyle gedra en sabels vir verdediging.

Die Russiese regering het konstant 'n tekort aan kontant gehad en die streltsi is dikwels nie goed betaal nie. Hoewel hulle in die 1550's "geregtig" was op sowat vier roebel per jaar, is hulle dikwels toegelaat om te boer of handel te dryf om hulle inkomste aan te vul. Dit het hulle doeltreffendheid in gevegte en bereidwilligheid om op veldtogte te gaan nadelig beïnvloed.

Die streltsi en hulle gesinne het in hulle eie buurte gewoon en het brood en geld van die staatstesourie ontvang. Op sekere plekke het hulle stukke grond gekry in plaas van geld. Die strelsi-buurt in Moskou was naby waar die hoofkampus van die Moskouse Staatsuniversiteit nou is.[4]

Politiek

Aan die einde van die 16de eeu was daar 20 000 tot 25 000 streltsi. In 1681 was daar 55 000, insluitende 22 500 net in Moskou. Hoewel die streltsi hulle doeltreffendheid in skermutselings op verskeie geleenthede bewys het, soos tydens die beleg van Kazan in 1552, die oorlog met Lyfland, die Nordiese oorloë vroeg in die 17de eeu en militêre operasies in Pole en die Krim in die tweede helfte van die 17de eeu, het die streltsi se agterlikheid in vergelyking met ander soldate begin wys.

'n Strelets (17de eeu.)

Militêre probleme, gereelde salarisagterstande en misbruik deur die plaaslike administrasies en bevelvoerders het daartoe gelei dat die streltsi, veral die armstes, in die 17de en vroeë 18de eeu in opstande teen slawerny betrokke geraak het. Dit sluit kleinboeroorloë in die Tyd van Beroeringe in, asook nadat die laaste lede van die Huis van Rjoerik aan die begin van die 17de eeu met die eerste Romanof-tsaars vervang is en opstande later in die 17de eeu (soos dié van die kosakke onder Stenka Razin en die streltsi-opstande van 1698).

Terselfdertyd het die streltsi aan die bopunt van die hiërargie hulle sosiale status geniet en dus probeer om die gewone streltsi-magte terug te hou en aan die kant van die regering te laat bly. In die laat 17de eeu het die streltsi van Moskou begin om aktief deel te neem aan 'n strydmag tussen verskillende regeringsgroepe; hulle het die Ougelowiges gesteun en vyandelikheid getoon teenoor enige buitelandse innovasies.

Hulle het 'n soort "Pretoriaanse element" in die Moskouse politieke verkry.[3] In 1682 het hulle probeer voorkom dat Pieter die Grote die troon bestyg ten gunste van sy halfbroer, Iwan V.

Ontbinding

Ná die val van Sofia Aleksejewna in 1689 het die regering van Pieter I 'n proses begin om die streltsi se militêre en politieke invloed geleidelik te beperk. Agt Moskouse regimente is aan die stad onttrek en na Belgorod, Sefsk en Kiëf oorgeplaas.

Die oggend van die streltsi-teregstellings ná hulle mislukte opstand in 1698, deur Wasili Soerikof.

Desondanks het die streltsi weer eens in opstand gekom tydens die Groot Ambassade van Pieter die Grote in Europa. Hoewel die opstand voor die tsaar se terugkoms onderdruk is, het Pieter sy ambassade kortgeknip en teruggekeer om die streltsi te verpletter met vergeldingsmaatreëls, onder meer openbare teregstellings en martelings.

Martelings het ingesluit om die kaal rug te braai, vleis met ysterhake te skeur en voete te vergruis. Teregstellings het ingesluit om op die wiel gebreek of lewend verbrand te word. Baie van die lyke is om die klooster gehang waarheen Sofia Aleksejewna en Pieter se eerste vrou, Jewdoksia, gestuur is as waarskuwing.

Die korps is tegnies in 1689 afgeskaf. Ná 'n nederlaag by Narva in 1700 het die regering dit gestaak. Die doeltreffendse streltsi-eenhede het deelgeneem aan die belangrikste operasies van die Groot Nordiese Oorlog en in Pieter se Proetrivierveldtog van 1711. Die streltsi is geleidelik in die gewone weermag opgeneem.

Die streltsi het in die 1720's ophou bestaan. Die munisipale streltsi is in sommige stede tot in die laat 18de eeu behou. Die Preobrazjenski-regiment en die Semjonofski-regiment van die Keiserswag het hulle vervang as lyfwagte van die tsaar.

Verwysings

Nog leesstof

  • Moutchnik, Alexander (2006). Der Strelitzen-Aufstand von 1698, in: Volksaufstände in Russland, ed. by Heinz-Dietrich Löwe (in Duits). Wiesbaden: Harrassowitz Verlag. pp. 163–196. ISBN 3-447-05292-9.

Skakels