Sjavuot word ná 49 dae se Omertelling op die 50ste dag, dus sewe weke en een dag na Pesach, gevier. Dit val op die sesde en sewende dag van die maand Siwan volgens die Joodse kalender. Saam met Pesach en Soekkot is Sjavuot een van die drie tradisionele Bedevaartsfeeste (שלוש רגלים, sjalosj regalim). Tydens die bestaan van die Tweede Tempel het die Jode na Jerusalem gegaan om daar offerandes te bring.
Sjavuot het 'n dubbele betekenis. Dit dui op die eerste koringoes in Israel (Sjemot/Eksodus 34,22) en herdenk die dag toe God die Tora aan die versamelde volk Israel by die berg Sinai gegee het. Die verhouding tussen die ontvangs van die Tora (Matan Tora) en Sjavuot blyk duidelik uit die Bybelse teks (Sjemot/Eksodus 19,1; 19,3–7; 19,8,10–11; 19,21–25; Wajikra/Levitikus 23,15[3]).
In die Tora het die herdenking verskeie name, onder ander חג השבועות "Fees van die weke" (Sjemot/Eksodus 34,22[4] en Dwarim/Deuteronomium 16,10[5]), חג הקציר "Fees van die oes" (Sjemot/Eksodus 23,16[6]), יום הבכורים "Dag van die eerstelinge [van die koringoes]" (Bemidbar/Numeri 28,26[7]). Die twee grondtekste van die Talmoed, Misjna en Ghemara, verwys na die fees as עצרת Atséret, "plegtige byeenkoms". Van die name weerspieël die verskillende betekenisse van die fees.
Die Jode herdenk die hernieude ontvangs van die Tien Woorde aan die berg Sinai. Dus word op die eerste dag ook Sjemot/Eksodus 19, 20,1–23 van die Tora gelees; Maftir: Bemidbar/Numeri 28,26–31; Haftara: Esegiël 1,1–28, 3,12. Volgens die Bybelse tradisie het Moses na die eerste ontvangs die kliptafels met die Tien Woorde gebreek, weens die aanbidding van die goue kalf deur die volk Israel. Toe het Moses teruggegaan na die bergspits van Sinai, om vir die volk te bid en die Tien Woorde opnuut te ontvang.
Sjavuot is ook 'n oesdankfees, aangesien die eerste koring in Israel rondom dié herdenking geoes word.
Omdat die koms van die Heilige Gees op die dissipels van Jesus volgens die Christelike Handelinge van die Apostels op die Joodse Wekefees gebeur het, het die Christelike Pinkster uit Sjavuot ontwikkel.
Sjavuot is volgens die Joodse kalender op 6 en 7 Siwan, die werklike viering begin egter altyd met sonsondergang op die vooraand (omdat 'n dag met sononder begin). Aangesien maande in die Joodse kalender altyd na die maan bereken word, wissel die datum van hierdie dag volgens die Gregoriaanse kalender. In Israel word Sjavuot een dag lank gevier, op 6 Siwan, terwyl in die Joodse diaspora Sjavuot twee dae lank gevier word, tot 7 Siwan, net om seker te maak dat die vieringe op die regte datum gaan plaasvind.
(en) Brofsky, David. "Hilkhot Moadim: Understanding the Laws of the Festivals." Jerusalem: Koren Publishers, 2013.
(en) Kitov, Eliyahu (1978). The book of our heritage: the Jewish year and its days of significance. Vol. 3: Iyar-Elul. Jerusalem: Feldheim Publishers. ISBN978-0-87306-151-3.
(en) Scherman, Nosson, red. (1993). The Chumash: the Torah: Haftaros and five Megillos with a commentary anthologized from the Rabbinic writings. ArtScroll / Mesorah Publications. ISBN978-0-89906-014-9.