Die newel het ’n prominente tweelobbige vorm, waarskynlik vanweë ’n dubbelstermetgesel van die sentrale witdwerg of magneetvelde, en het ’n "S"-vormige simmetrie – die dele wat teenoor mekaar lê, lyk dieselfde. Die twee lobbe is egter nie glad; hulle is op ’n ingewikkelde manier gerimpel. [3]
Die sentrale ster, ’n witdwerg wat eens die kern van die oorspronklike ster was, bring ’n kragtige, warm wind van sowat 10 000 kelvin (K) voort wat teen 300 km/s beweeg. Dit veroorsaak golwe van 100 miljard kilometer hoog. Die golwe word deur supersoniese skokke gevorm wanneer die gas saamgepers en verhit word voor die vinnig uitsittende lobbe. Atome wat in die skokke vasgevang word, straal ’n sigbare lig uit.[5] Dit is dié winde wat aan die newel sy kenmwerkende spinnekopvoorkoms gee en dit dra ook by tot die uitsetting van die newel.[6]
Die ster in die middel van die newel word omring deur ’n stofwolk wat dit moeilik maak om sy presiese eienskappe te bepaal. Sy oppervlaktemperatuur is waarskynlik 150 000 tot 250 000 K,[2] hoewel ’n temperatuur van 340 000 of selfs 500 000 K nie onmoontlik is nie – dit is een van die warmste witdwerge bekend.
Die afstand van die Aarde af is al geraam op 1 900 ligjare[6][7] of, meer waarskynlik, 3 000 tot 8 000 ligjare.[2]