Richard Dreyfuss

Amerikaanse akteur

Richard Dreyfuss (geb. 29 Oktober 1947) is ’n Amerikaanse akteur wat veral bekend is vir sy rolle in American Graffiti, Jaws, Close Encounters of the Third Kind en The Goodbye Girl.

Richard Dreyfuss
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Dreyfuss in 2013 by die Cannes-rolprentfees.

GeboortenaamRichard Stephen Dreyfus[1]
Geboorte29 Oktober 1947 (1947-10-29) (76 jaar oud)
Brooklyn, New York, VSA
NasionaliteitAmerikaans
Beroep(e)Akteur
Aktiewe jare1964-hede
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Dreyfuss het die Oscar vir beste akteur in 1977 gewen vir The Goodbye Girl en is in 1995 benoem vir Mr. Holland's Opus. Hy het ook ’n Golden Globe en Bafta gewen en is in 2002 vir twee Screen Actors Guild-pryse benoem.

Vroeë lewe

Dreyfuss is as Richard Stephen Dreyfus[1] in Brooklyn, New York, gebore as die seun van Norman, ’n prokureur en restaurateur, en Geraldine, ’n vredesaktivis.[2] Sy pa het nie van New York gehou nie en het saam met die gesin na Europa getrek en toe Dreyfuss nege was, na Los Angeles.[3][4] Dreyfuss het aan die Hoërskool Beverly Hills skoolgegaan.[4]

Loopbaan

Dreyfuss en Allan Carr in 1989.

Dreyfuss het in sy jeug begin toneelspeel in die Beverly Hills Joodse Sentrum.[4] Hy het op 15 in die TV-produksie In Mama's House gespeel, en ná skool ’n paar klein rolle vertolk in onder meer Peyton Place en The Big Valley. In die laat 1960's en vroeë 1970's was hy ook op Broadway en Off-Broadway te sien. In 1972 het Dreyfuss saam met Henry Fonda, Gloria Grahame, Ron Thompson en ander verskyn in die toneelstuk The Time of Your Life.

Sy rolprentdebuut was in ’n klein rol in The Graduate, waarvoor hy geen krediet gekry het nie. Sy eerste groot rol was in die 1973-treffer American Graffiti, saam met ander toekomstige sterre soos Harrison Ford en Ron Howard.[4] Sy eerste hoofrol het hy gespeel in die Kanadese prent The Apprenticeship of Duddy Kravitz (1974). Die volgende jaar het hy in nog twee treffers, Jaws (1975) en Close Encounters of the Third Kind (1977), gespeel wat albei deur Steven Spielberg geregisseer is. In 1978 het hy die Oscar vir beste akteur gewen vir sy uitbeelding van ’n sukkelende akteur in The Goodbye Girl (1977). Hy was toe 30 jaar oud en die jongste akteur wat ’n Oscar gewen het.[4] Die rekord het 25 jaar lank gestaan tot dit in 2003 deur Adrien Brody gebreek is.

Omstreeks 1978 het Dreyfuss kokaïen gereeld begin gebruik en vier jaar later is hy in hegtenis geneem vir die besit van die dwelm nadat hy sy bewussyn verloor het terwyl hy bestuur het en sy motor ’n boom getref het.[4][5] Ná tyd in ’n rehabilitasiekliniek het hy sy terugkeer gemaak in Down And Out In Beverly Hills (1986)[4] en Stakeout (1987).

In 1989 het weer saam met Spielberg gewerk, dié keer aan Always. Hy het in 1991 saam met Bill Murray in die komedie What About Bob? gespeel. In dieselfde jaar was hy die vervaardiger van Prisoner of Honor, waarin hy ook gespeel het. Dreyfuss is vir ’n Oscar en Golden Globe benoem vir sy spel as Glenn Holland in Mr. Holland's Opus (1995).[4] In die 2000's het hy nog verskeie rolle in rolprente, op TV en op die verhoog vertolk.

In November 2004 het Dreyfuss weens gesondheidsprobleme onttrek aan die Londense musiekblyspel The Producers.[6] In 2006 was hy een van die oorlewendes in die rolprent Poseidon. In 2008 het hy die rol vertolk van die Amerikaanse visepresident Dick Cheney in Oliver Stone se biografieprent oor George W. Bush met die naam W.[7]

Hy het ’n ster op die Hollywood Walk of Fame[8] en was saam met 99 ander sterre by die "2012 Academy Awards – Night of 100 Stars".

Persoonlike lewe

Dreyfuss is vroeg in die 1980's getroud met die skrywer en vervaardiger Jeramie Rain. Hulle het drie kinders gehad: Emily (1983), Benjamin (1986) en Harry (1990). Benjamin is met ’n seldsame oogsiekte gebore wat hom eindelik blind in sy linkeroog gelaat het. Die egpaar is in 1995 geskei en in 1999 is hy met Janelle Lacey getroud. Hulle is in 2005 geskei.[9]

In 2006 is Dreyfuss met die Russies gebore Svetlana Erokhin getroud en hulle woon sedertdien in San Diego.

Filmografie

JaarRolprentRolNotas
1966BewitchedRodneyTV
1967Valley of the DollsAssistant-verhoogbestuurderNie op naamrol
1968The Young RunawaysTerry
1969Hello Down ThereHarold Webster
1973American GraffitiCurt HendersonGolden Globe-benoeming
1973DillingerBaby Face Nelson
1974The Apprenticeship of Duddy KravitzDuddy
1974The Second Coming of SuzanneClavius
1975InsertsThe Boy Wonder
1975JawsMatt HooperBAFTA-benoeming
1976Victory at EntebbeKol. Yonatan "Yonni" Netanyahu
1977Close Encounters of the Third KindRoy NearySaturn-benoeming
1977The Goodbye GirlElliott GarfieldOscar vir beste akteur
BAFTA vir akteur in ’n hoofrol
Golden Globe vir beste akteur in ’n musiekspel of komedie
Kansas City Film Critics Circle-prys
Los Angeles Film Critics Association-prys
1978The Big FixMoses WineOok vervaardiger
1980The CompetitionPaul DietrichGolden Raspberry-benoeming vir swakste akteur
1981Whose Life Is It Anyway? Ken Harrison
1986Down and Out in Beverly HillsDavid "Dave" Whiteman
1987StakeoutSpeurder Chris Lecce
1987NutsAaron LevinskyGolden Globe-benoeming
1988Moon Over ParadorJack Noah/pres. Alphonse Simms
1990Rosencrantz & Guildenstern Are DeadThe PlayerPasinetti-prys vir beste akteur, Venesiese Rolprentfees
1990Postcards from the EdgeDr. Frankenthal
1991What About Bob?Dr. Leo Marvin
1993Lost in YonkersLouie Kurnitz
1993Another StakeoutSpeurder Chris Lecce
1995The American PresidentSen. Bob Rumson
1995Mr. Holland's OpusGlenn HollandOscar-benoeming
Golden Globe-benoeming
1997Oliver TwistFaginTV; ook vervaardiger
1999LanskyMeyer Lansky
2006PoseidonRichard Nelson
2008W. Dick Cheney
2009My Life in RuinsIrv
2010Piranha 3DMatthew BoydKamee
2010REDAlexander Dunning
2013Very Good GirlsDanny
2013ParanoiaFrancis Cassidy

Verwysings

Eksterne skakels