Ramses I
Menpehtire Ramses I was die stigter van die 19de Dinastie van Antieke Egipte. Die datums van sy kort bewind is nie heeltemal seker nie, maar die tydperk laat 1292-1290 v.C. word dikwels genoem,[1] asook 1295-1294 v.C.[2] Hoewel hy die stigter van die dinastie was, was sy kort bewind eintlik die oorgang van die bewind van Horemheb, wat Egipte tydens die laat 18de Dinastie gestabiliseer het, en die heerskappy van die magtige farao's van die daaropvolgende dinastie, veral sy seun Seti I en kleinseun Ramses II, onder wie Egipte nuwe hoogtes bereik het.
Ramses I | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Paramessoe, Menpehtire | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
![]() | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Farao van die 19de Dinastie | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Periode | 1292-1290 v.C. of 1295-1294 v.C. | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Voorganger | Horemheb | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Opvolger | Seti I | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Vader | Seti | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Gade(s) | Sitre | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Oorlede | 1290 v.C. | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Ramses I in Egiptiese hiërogliewe | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Herkoms
![](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/4/41/Ramses_I.jpg/220px-Ramses_I.jpg)
Ramses I se oorspronklike naam was Paramessoe en hy was nie van koninklike afkoms nie. Hy is gebore in ’n adellike militêre familie van die Nyldelta-streek, dalk naby die voormalige Hyksos-hoofstad Avaris. Sy pa was ’n aanvoerder met die naam Seti. Sy oom Chaemwaset, ’n leëroffisier, was getroud met Tamwadjesi, die matrone van die harem van Amoen wat familie was van Hoei, die onderkoning van Koesj.[3] Ramses I se familie het dus ’n hoë status gehad. Hy is deur Horemheb, die laaste farao van die onstuimige 18de Dinastie, aangestel as sy visier en hy was hoëpriester van Amoen[4] – as sulks sou hy ’n belangrike rol gespeel het in die herstel van die ou gode ná die Amarna-tydperk toe die destydse heerser, Achenaten, die aanbidding van ’n nuwe god ingestel het.
Horemheb self was ’n edelman van buite die koninklike familie wat deur die range van die Egiptiese leër gevorder het totdat hy Toetankamen en Ai se visier was, en eindelik farao. Horemheb was kinderloos en het Ramses as sy erfgenaam gekies in die laaste jare van sy bewind, vermoedelik omdat Ramses ’n goeie administrateur was en ’n seun (Seti I) en kleinseun (Ramses II) gehad het wat hom kon opvolg.
Toe Ramses die troon bestyg, het hy die praenomen, of troonnaam, Menpehtire aangeneem wat gewoonlik vertaal word as "Gevestig deur die krag van Ra". Hy is egter meer bekend onder sy nomen, of persoonlike naam, Ramses. Dit word gewoonlik vertaal as "Ra het hom gedra". Ramses was reeds taamlik oud toe hy gekroon is en het sy seun Seti as kroonprins en sy erfgenaam aangestel. Seti was in beheer van verskeie militêre operasies in Ramses se tyd, veral pogings om van Egipte se verlore besittings in Sirië op te spoor. Dit lyk of Ramses hom eerder met binnelandse sake bemoei het; hy het onder meer die konstruksie van die tweede poorttoring by die Karnak-tempel voltooi wat onder Horemheb begin is.
Dood
![](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/9/99/Abydos_chapel_reliefs_of_Ramesses_I_by_John_Campana.jpg/270px-Abydos_chapel_reliefs_of_Ramesses_I_by_John_Campana.jpg)
Ramses I het baie kort regeer, soos duidelik is uit die min monumente wat hom noem; hy het min tyd gehad om groot geboue tydens sy bewind te laat bou en is in ’n klein tombe begrawe wat haastig voltooi is.[5] Volgens die Egiptiese priester Manetho het hy 16 maande regeer, maar sy bewind was vermoedelik minstens 17 maande lank.[6]
Ramses is in die Vallei van die Konings begrawe en sy klein tombe is in 1917 deur die Italiaanse argeoloog Giovanni Belzoni ontdek. Dit het die nommer KV16 gekry. Volgens die Britse argeoloog Joyce Tyldesley het Ramses I se tombe bestaan uit ’n enkele gang en ’n onvoltooide kamer "waarvan die mure, ná ’n vinnige laag pleister, geverf is om die koning en sy gode uit te beeld, met Osiris wat ’n belangrike posisie beklee. Die rooi granietsarkofaag is ook geverf in plaas van gegraveer en weens die haas waarmee die inskripsies voltooi is, bevat dit ’n paar ongelukkige foute."[7]
Sy seun en opvolger, Seti I, het later ’n klein kapel met fyn reliëfwerk by Abidos laat bou ter herinnering aan sy pa. In 1911 het die Amerikaanse bankier en finansier John Pierpont Morgan verskeie keurige reliëfwerke uit hierdie kapel aan die Metropolitan-kunsmuseum in New York geskenk.[8]
Herontdekking en terugbesorging
’n Mummie wat vermoedelik dié van Ramses I is, is deur ’n familie grafrowers uit Egipte gesteel en meer as 130 jaar in ’n Kanadese museum ten toon gestel. Nadat die eienaar van die museum sy bates verkoop het, is die moontlike identiteit van die mummie besef. Dit is in 2003 aan Egipte terugbesorg en word nou in die Luxor-museum uitgestal.[9]
Die identiteit van die mummie kon nie vir seker vasgestel word nie, maar is waarskynlik dié van Ramses I volgens CT-skanderings, X-strale, skedelmates en radiokoolstofdateringtoetse deur navorsers by die Emory-universiteit in Atlanta, Georgia. Verder was die arms hoog op sy bors gevou – ’n posisie wat net gebruik is vir Egiptiese koninklikes tot 600 v.C.[10]
Verwysings
Eksterne skakels
- U.S. Museum to Return Ramesses I Mummy to Egypt
- Ramesses I: The search for the Lost Pharaoh Geargiveer 28 Februarie 2011 op Wayback Machine
- Ramses I by Find a Grave
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Ramses I.
Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia