Volgens die Liber Pontificalis was sy termyn slegs 4 maande lank, maar daar bestaan onsekerheid oor die presiese datums. Die besonderhede van sy pontifikaat het bekend geword deur sy grafskrif wat deur Pous Damasus aangebring is. 'n Stuk van die oorspronklike en 'n 6de eeuse kopie is deur De Rossi gevind in die Callixtuskatakombe. Die grafskrif dui aan dat die stryery oor die hertoelating van die Christene wat hulle geloof versaak het tydens die vervolgings van keiser Diocletianus (die sg. “lapsi”), gedurende sy bewind voortgeduur het. Eusebius het die beleid wat reeds in 250 of 251 neergelê is, gehandhaaf, naamlik dat hulle hertoegelaat kon word na boetedoening. Hierdie siening is geopponeer deur Heraclius 'n leier van die lapsi. Hierdie beroering het daartoe gelei dat keiser Maxentius beide Eusebius en Heraclius uit Rome verban het. Eusebius is na Sisilië verban waar hy dood is.