Pentapolis

'n Pentapolis, van die Griekse Πεντάπολις (penta = vyf en polis = stad, dus "vyfstad") was 'n geografiese of politieke verbond tussen vyf stede.

Deur die geskiedenis was daar verskillende pentapoleis.

Adriatiese Pentapolis

Die Adriatiese Pentapolis.

In die laat oudheid/vroeë middeleeue (554 - omstreeks 752) het vyf Italiaanse stede 'n pentapolis gevorm. Omdat hierdie stede geleë was aan die Adriatiese See is die pentapolis ook die Adriatiese Pentapolis genoem. Hierdie vyf stede was (van wes na oos, Latynse naam in skuinsdruk):

  1. Rimini (Ariminum)
  2. Pesaro (Pisaurum)
  3. Fano (Fanum Fortunae)
  4. Senigallia (Sena Gallica)
  5. Ancona (Oudgrieks: Ἀγκών, Ankon)

Die stedeverbond het 'n hertogdom gevorm wat deel uitgemaak het van die eksargaat Ravenna, wat op sy beurt 'n provinsie was van die Bisantynse Ryk. Die pentapolis het rondom 752 ontbind toe dit deur die Lombarde onder bevel van koning Aistulf verower is.

Pentapolis van Cyrenaica

Cyrenaica en Marmarica in die 2de eeu.

Die Pentapolis van Cyrenaica in Oos-Libië het bstaan uit (oorspronklike Griekse naam in vetdruk, Latynse naam in skuinsdruk):

  1. Kirene (Κυρήνη), later Cyrene, die teenswoordige Sjahhat (met sy hawe Apollonia (Απολλωνία), die teenswoordige Susa in Libië)
  2. Barke (Βάρκη), later Barca, die teenswoordige Al Marj
  3. Euhesperides (Ευσπερίδες), later Berenike (Βερενίκη)/Berenice, die teenswoordige Benghazi)
  4. Ptolemais (Πτολεμαίς), later Tolmeta, die teenswoordige Tolmeitha
  5. Taucheira (Ταύχειρα), later Arsinoe (Ἀρσινόη) en Tocra, die teenswoordige Tukrah

Hierdie stede is vanaf ongeveer 631 v.C. tot ongeveer 400 v.C. deur Griekse koloniste gestig. Volgens Ploutarchos het setlaars van die digbevolkte eiland Thera hierna uitgekom, nadat die orakel van Delphi hulle beveel het om in Afrika 'n nuwe tuiste te soek. In 74 v.C. het die Romeine Cyrenaica verower, maar die Pentapolis het bly bestaan. Dit is bekend dat Sinesius van Cirene in die vroeë 5de eeu metropolitaan was van die Pentapolis. Die stedeverbond het waarskynlik met die Arabiese verowering in die 7de eeu tot 'n einde gekom.

Filistynse Pentapolis

Die Filistynse Pentapolis.

Die Filistynse Pentapolis het in omstreeks 1200 v.C. uit die bekendste Filistynse stede bestaan, wat hulself verenig het in 'n handelsliga en militêre koalisie. Die stede was Askelon, Asdod, Gaza, Ekron en Gat. Hierdie liga het onder leiding van 'n seren ("opperhoof") gestaan.

Pentapolis van die M'Zab

In die M'Zabvallei in die noorde van die (Algerynse) Sentrale Sahara het die heilige stad Beni Isguen en die stede Ghardaïa, Melika, Bou Noura en Atheuf 'n pentapolis gevorm in die gebied van die Mosabiete.

Bronne

  • Westermann Großer Atlas zur Weltgeschichte (Afr: Groot Atlas van Wêreldgeskiedenis)