Noordoos-Kaukasiese tale
Die Noordoos-Kaukasiese, Oos-Kaukasiese of Nacho-Dagestanse tale is ’n taalfamilie wat in die Russiese republieke Dagestan, Tsjetsjnië en Ingoesjetië en in Noord-Azerbeidjan en Noordoos-Georgië gepraat word, sowel as deur verstrooide bevolkings in Rusland, Turkye en die Midde-Ooste.
Noordoos-Kaukasiese tale Oos-Kaukasiese / Nacho-Dagestanse tale | |
---|---|
Geografiese verspreiding: | Kaukasus, Turkye, ander lande |
Genetiese klassifikasie: | Alarodiaans? Noordoos-Kaukasiese tale |
Onderafdelings: | Awar-Andies Tsezies Lak Dargin Nach Chinaloeg Lezgies |
![]() Verspreiding van die Noordoos-Kaukasiese tale. Awar-Andies Tsezies Dargin Lak Lezgies Chinaloeg |
![](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/b/b0/Caucasus-ethnic_en.svg/220px-Caucasus-ethnic_en.svg.png)
Hulle word soms "Kaspiese tale" genoem omdat die streke waar hulle gepraat word, aan die Kaspiese See lê – in teenstelling met die naam "Ponties" vir die Noordwes-Kaukasiese tale. Saam met die Noordwes-Kaukasiese tale en die Suid-Kaukasiese tale (Kartweliese tale) maak die familie deel uit van ’n groep van drie taalfamilies wat in die Kaukasus-taalgebied gepraat word; al drie taalfamilies toon egter geen onderlinge genetiese verwantskap nie. Hulle word veral uit geografiese redes onder die sambreelterm Kaukasiese tale saamgevat. Die Georgiese taalkundige Arnold Chikobawa het wel 'n Ibero-Kaukasiese taalfamilie voorgestel, alhoewel dit algemeen verwerp is.
Van die bekendste en belangrikste Noordoos-Kaukasiese tale (volgens moedertaalsprekers) is: Tsjetsjnies (1,5 miljoen), Awaars (761 960) en Ingoesjeties (322 900). Hierdie tale word veral in Rusland gebesig en met die Cyrilliese alfabet geskryf.
Eksterne skakels
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Noordoos-Kaukasiese tale.
- (en) "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Nakh-Daghestanian". Ethnologue. Besoek op 20 Augustus 2020.
- (en) "Nakho-Dagestanian languages". Encyclopædia Britannica. Besoek op 20 Augustus 2020.