Naturopatie

Naturopatie of naturopatiese medisyne is 'n breë kategorie pseudowetenskaplike, alternatiewe mediese praktyke wat "natuurlike", "nie-indringende" en "selfgenesende" praktyke insluit.[1] Die metodologieë van naturopatie is gebaseer op vitalisme en volksgeneeskunde, eerder as op bewysgebaseerde medisyne.[2] Sommige naturopatiese praktisyns beveel aan om moderne mediese praktyke te volg, soos mediese toetse, medisyne, inentings en chirurgie.[3][4][5][6] Naturopatiese praktisyns word deur bestaande mediese instellings daarvan beskuldig dat hulle versuim om getuienisgebaseerde benaderings in hul mediese praktyke te gebruik, en deur die professionele mediese gemeenskap word naturopatie as ondoeltreffend en skadelik beskou, wat etiese kwessies rakende die praktyk daarvan opwek.[7][8][9] Naturopate is deur die mediese gemeenskap herhaaldelik gekritiseer en daarvan beskuldig dat hulle swendelaars is en kwaksalwery beoefen.[7][10][11][12][13][14]

'n Homeopatiese preparaat van Hepar sulph

Geskiedenis

Die term Naturopatie is in 1895 deur John Scheel geskep[15] en is afkomstig van natura (Latynse woord vir geboorte) en pathos (die Griekse woord vir lyding) om "natuurlike genesing" voor te stel.[16] Naturopate beweer die antieke Griekse "Vader van Geneeskunde", Hippokrates, as die eerste voorstander van naturopatiese medisyne, voordat die term al bestaan het.[16][17] Naturopatie het sy oorsprong in die 19de-eeuse "Natuurlike genesing"-beweging van Europa.[18][19] In Skotland het Thomas Allinson in die 1880's begin om sy "Higiëniese medisyne" te bepleit, 'n natuurlike dieet en oefening met die vermyding van tabak en oorwerk.[20][21]

Praktyk

Die beoefening van naturopatie is gebaseer op 'n geloof in die vermoë van die liggaam om homself te genees deur 'n spesiale energie of krag om liggaamlike prosesse intern te lei. Diagnose en behandeling handel hoofsaaklik oor alternatiewe terapieë en "natuurlike" metodes waarop naturopate beweer dat die liggaam se natuurlike geneesvermoë bevorder word. Naturopate fokus op 'n holistiese benadering en vermy die gebruik van chirurgie en konvensionele medisyne heeltemal. Naturopate beoog om siektes te voorkom deur stresvermindering en veranderinge in dieet en lewenstyl, en verwerp dikwels die metodes van bewysgebaseerde medisyne.[9]

Britt Marie Hermes (2016), 'n voormalige naturopatiese dokter en groot kritikus van naturopatiese medisyne

Naturopatiese praktisyns spreek gewoonlik hul teenkanting teen inenting aan. Die redes vir hierdie opposisie is gebaseer op die vroeë sienings wat lui: "Laat ons net verwys na die entstofstowwe wat veronderstel is om 'n doeltreffende voorkoming van pokke te voorkom. Die natuurlike stelsel om siektes te genees, is gebaseer op 'n terugkeer na die natuur in die regulering van die dieet, asemhaling, oefening, bad en die gebruik van verskillende kragte om die giftige produkte in die stelsel uit te skakel, en sodoende die lewenskragtigheid van die pasiënt volgens 'n behoorlike standaard van gesondheid te verbeter."[22]

In 2015 het 'n voormalige naturopatiese dokter, Britt Marie Hermes, krities begin skryf oor haar ervaring met die opleiding in naturopatiese medisyne.[23] Sy verklaar dat "'n produk wat deur 'n naturopaat verkoop word, amper waarborg dat daar geen betroubare wetenskaplike gegewens bevat wat die gesondheidsaansprake kan ondersteun nie, en dat alhoewel sommige naturopate beweer dat hul mediese praktyk gebaseer is op bewyse, "die probleem is, alle naturopate in 'n geakkrediteerde naturopatiese program moet homeopatie, kruie medisyne, energie genesing, chiropraktiese tegnieke, waterterapie en ander pseudowetenskaplike praktyke breedvoerig bestudeer." Hermes merk verder op dat, hoewel sommige naturopate beweer dat hul metode effektiewe behandelings vir sielkundige afwykings kan wees, "is daar geen kliniese bewyse dat naturopatiese behandeling 'n veilig en effektiewe behandeling vir bipolêre versteuring of enige ander toestand is nie."[24][25][26]

Geskiedenis van naturopatie in Suid-Afrika

Sommige mense beweer dat naturopatie in Suid-Afrika ingestel is toe die vroeë Nederlandse setlaars hul tradisionele medisyne saamgebring het na Suid-Afrika. Hierdie behandelings word egter oor die algemeen beskou as boererate en nie naturopatie nie. Wat hulle wel in gemeen het, is dat hulle nie-wetenskaplike behandelings en behandelings wat nie op bewyse gebaseer is nie. Teen die 19de eeu was daar 'n klein aantal wat nou die Sogenaamde Aanvullende en Alternatiewe Mediese praktisyns genoem sou wees, (SAAM of in Engels SCAM practitioners), maar na die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika 'n toename in immigrante gehad, en onder hulle ook SAAM-beoefenaars. Oud-Hollandse medisyne en Homeopatiese middels was reeds in gebruik in die land, maar die nuwe vlaag immigrante het homeopatie, naturopatie en kruiemedisyne gebruik in pogings om verskillende siektes te behandel.[27][28][29]

Mediese praktisyns het begin veg teen die groeiende aantal SAAM-praktisyns, en dit het daartoe gelei dat die Mediese Vereniging van Suid-Afrika SAAM in 1953 "onwettig en onwetenskaplik" verklaar het [30] en enige samewerking tussen moderne dokters en SAAM-praktisyns is in die mediese kode verbied.[31] Met die goedkeuring van die Wet op Homeopate, Naturopate, Osteopate en Kruiedokters 52 in 1974, word verwag dat alle SAAM-praktisyns wat deur die wet erken is, binne 6 maande vanaf die datum van promulgering van die Wet sou registreer met die Departement van Gesondheid. Hierdie register is in 1975 vir praktisyns gesluit maar studente by privaat opleidings-kolleges is egter toegelaat om hul studies te voltooi en te registreer. Opleidingskolleges is geleidelik uitgefaseer en teen 1982 is alle opleidingskolleges gesluit. Die Wet op Geassosieerde Gesondheidsdiensberoepe 63 van 1982 het daartoe gelei dat al die registers gesluit is en geen nuwe registrasies toegelaat is nie. Dit het dit onwettig gemaak om naturopatie, kruie medisyne praktyke, homeopatie, chiropraktyk en osteopatie te beoefen indien die praktisyn nie geregistreer is nie.[29]

In 1985 is die register geopen vir chiropraktisyns en homeopate en kort daarna is opleidingsprogramme in hierdie beroepe by tersiêre instellings soos die Universiteit van Wes-Kaapland opgerig.[29][32] In 1997 stig naturopate 'n professionele vereniging , die Suid-Afrikaanse Naturopatiese Vereniging (SANA)[33] en in 2001 het regulasie 127 van 2001 die registrasie van praktisyns in ayurveda (Indiese alternatiewe mediese praktyke), tradisionele Chinese medisyne, akupunktuur, naturopatie, osteopatie en kruie medisyne moontlik gemaak.[29] Dit was verder aangemoedig in Desember 2013 toe die WGO hul "Tradisionele medisyne-strategie: 2014-2023" gepubliseer het waarin hulle hul "strategie verduidelik om die lidlande van die WGO te ondersteun in die ontwikkeling van beleid en die implementering van gesondheidsplanne om die rol wat tradisionele medisyne speel om die bevolking gesond te hou, te versterk."[34] Alhoewel daar voorvalle van regsgedinge teen SAAM-praktisyns was weens wanpraktyk, is dit meer gereeld dat hierdie sake intern hanteer word deur middel van ondersoekrade[35] wat oor die algemeen onder toesig van die Raad van die Geallieerde Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika.[36]

Alhoewel daar in 2018 berig is dat die Universiteit van Wes-Kaapland nie nuwe studente op hul SAAM-kursusse toelaat nie terwyl hul huidige studente hul studies laat voltooi,[37] was daar in 2020 steeds ander aanlynopsies beskikbaar.[38]

Verwysings