Namibiese Rugbyunie

Die Namibiese Rugbyunie (Engels: Namibia Rugby Union, afgekort “NRU”) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Namibië beheer. Die beheerliggaam is in 1990 gestig en in Windhoek gesetel. Sedertdien verteenwoordig dit Namibië by Wêreldrugby en ook by Rugby Afrika (“RA”).

Namibiese Rugbyunie
Kenteken van die Namibiese Rugbyunie
Kenteken van die Namibiese Rugbyunie
Engelse naamNamibia Rugby Union
AfkortingNRU
LandVlag van Namibië Namibië
SportsoorteRugby, Sewesrugby
Stigting1990
Lid vanWêreldrugby
Aangesluit in1990
Vastelandse beheerliggaamRugby Afrika
PresidentCorrie Mensah
SetelWindhoek, Namibië
Amptelike taalEngels
Amptelike webwerfnru.com.na

Geskiedenis

Nog tydens die Suidwes-Afrika-veldtog is in 1916 in Windhoek die eerste plaaslike beheerliggaam “Damaraland Rugbyvoetbalunie” gestig en was ondergeskik aan die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, die huidige Suid-Afrikaanse Rugbyunie se voorloper.[1] In 1952 is die plaaslike beheerliggaam in Suidwes-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (SWARVU) hernoem. Die Namibiese Rugbyunie is in 1990 as opvolger van die SWARVU gestig en het in dieselfde jaar ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[2] Daarbenewens het die Namibiese Rugbyunie in 1990 by die vier jaar vroeër gestigte kontinentale beheerliggaam Rugby Afrika aangesluit.[3] In Augustus 2018 is rugby as een van Namibië se nasionale sportsoorte erken.[4]

Taak

Die Namibiese Rugbyunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Namibië se nasionale seniorrugbyspan vir mans (die Welwitschias), vroue en jeug. Die NRU hou ook toesig oor sewesrugby in Namibië en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die Namibiese Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Namibië. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.[5] Net soos ander rugbylande beskik Namibië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[6]

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in Namibië is die Rugbypremierliga (RPL) met agt spanne.[7] Sedertdien is die meeste spelers van die Namibiese nasionale span uit dié liga afkomstig, van die ander spelers is veral in Suid-Afrika en Frankryk aktief.

Kenteken

Die beheerliggaam Namibiese Rugbyunie se kenteken toon ’n visarend, Namibië se wapendier. Die nasionale span se bynaam is Welwitschias, ontleen aan die gelyknamige nasionale plant van Namibië.

Sien ook

Verwysings

Eksterne skakels