Marlene van Staden

Marlene van Staden (née Vermaak; 2 Februarie 1981 – 8 Junie 2023) was 'n Suid-Afrikaanse politikus. Sy was die burgemeester van die Modimolle–Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit vanaf 2016 tot haar dood in 2023. Van Staden was 'n lid van die Demokratiese Alliansie.

Marlene van Staden

Ampstermyn
23 Augustus 2016 – 8 Junie 2023
Voorafgegaan deurAmp geskep

Persoonlike besonderhede
GeboreMarlene Vermaak
2 Februarie 1981
Empangeni, Natal, Suid-Afrika
Sterf8 Junie 2023 (op 42)
Groenkloof, Pretoria (aan borskanker)
NasionaliteitVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Politieke partyDemokratiese Alliansie
Eggenoot/-noteHannes van Staden
Kind(ers)2
Alma materUniversiteit van Pretoria
Universiteit van Suid-Afrika

Vroeë lewe

Van Staden is in Empangeni in die destydse Natal gebore. Sy en haar familie het in 1989 na Vaalwater in Limpopo verhuis, en sy het tot haar afsterwe daar gewoon. Van Staden het aan die Hoërskool Nylstroom in Modimolle gematrikuleer. Hierna het sy aan die Universiteit van Pretoria studeer en 'n BCom in Toerismebestuur behaal. Sy het later 'n Nagraadse Onderwyssertifikaat en 'n honneursgraad in besigheidsbestuur aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal.[1]

Politieke loopbaan

Van Staden het by die DA aangesluit nadat sy deur senior partylid Désirée van der Walt gewerf is. In die munisipale verkiesing van 2016 het geen party 'n meerderheid in die raad van die nuutgestigte Modimolle–Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit verkry nie. Op 23 Augustus 2016 is Van Staden as die burgemeester van die munisipaliteit verkies met die hulp van stemme van die Vryheidsfront Plus en Ekonomiese Vryheidsvegters se raadslede.[2]

In die 2021-munisipale verkiesing het die ANC se steun vermeerder en die party het 14 van 28 setels in die raad gewen. Die DA, EFF en VF+ het die res van die setels gewen. Op 2 Desember 2021 is Van Staden herverkies as burgemeester, deur die opskiet van 'n muntstuk, nadat sy en die ANC-kandidaat, Aaron Sebolayi, na twee rondtes se stemming steeds 14 stemme elk gekry het.[3]

Sterfte

Van Staden is op 8 Junie 2023 aan borskanker by die Mary Potter-onkologie-sentrum in Groenkloof, Pretoria oorlede.[4]

Verwysings

Eksterne skakels