Magneetterapie

Magneetterapie is 'n pseudowetenskaplike alternatiewe medisyne wat 'n swak statiese magnetiese velde bevat wat deur 'n permanente magneet geskep word. Dit is soortgelyk aan die praktyk van alternatiewe medisyne vir elektromagnetiese terapie, wat 'n magnetiese veld gebruik wat gegenereer word deur 'n elektries aangedrewe toestel.[1]

Praktisyns beweer dat die onderwerping van sekere dele van die liggaam aan swak elektriese of magnetiese velde voordelige gesondheidseffekte het. Hierdie fisiese en biologiese bewerings is onbewys en geen invoeld op gesondheid of genesing is vasgestel nie.[1][2][3][4][5] Alhoewel hemoglobien, die bloedproteïen wat suurstof dra, swak diamagneties is (wanneer dit suurstofryk is) of paramagneties is (wanneer dit suurstof uitgeput is), is die magnete wat in magnetiese terapie gebruik word veels te swak om enige meetbare effek op die bloedvloei te hê nie. Dit moet nie verwar word met transkraniale magnetiese stimulasie, 'n wetenskaplik-geldige vorm van terapie nie.[6]

Metodes van toepassing

'n Gladde sirkelband van magnetiet op 'n vinger

Magneetterapie behels die toepassing van die swak magnetiese veld van permanente magnete op die liggaam vir beweerde gesondheidsvoordele. Verskillende effekte word toegeken aan verskillende oriëntasies van die magneet.[7]

Produkte sluit magnetiese armbande en juweliersware in; magnetiese bandjies vir polse, enkels, knieë en rug; skoene binnesole; matrasse; komberse met magnete wat in die materiaal ingeweef is; magnetiese room; magnetiese aanvullings; pleisters en water wat "gemagnetiseer" is. Toediening word gewoonlik deur die pasiënt uitgevoer.[1]

Voorgestelde werkingsmeganismes

Die mees algemeenste voorgestelde meganisme is dat magnete bloedvloei in onderliggende weefsels kan verbeter. Die magnetiese veld rondom magneetterapie-toestelle is heeltemal te swak en val heeltemal te vinnig af om hemoglobien, ander bloedkomponente, spierweefsel, bene, bloedvate of organe opmerklik te beïnvloed.[2][8] In 1991 het 'n studie op mense gewys dat 'n magnetiese veldsterkte van tot 1T geen effek op plaaslike bloedvloei gehad het nie.[9][10] Weefsel wat met suurstof deudring is word ook nie beïnvloed nie.[8]

Sommige praktisyns beweer dat die magnete die hipotetiese "elektromagnetiese energiebalans" van die liggaam kan herstel, maar geen sodanige balans word medies erken nie. Selfs in die magnetiese velde wat gebruik word in magnetieseresonansiebeelding (MRB), wat baie keer sterker is, word geen van die beweerde effekte waargeneem nie. As die liggaam sinvol beïnvloed word deur die swak magnete wat in magneetterapie gebruik word, sou MRB onprakties wees.[11][12][13]

Doeltreffendheid

Verskeie studies is gedoen om te ondersoek watter rol, indien enige, statiese magnetiese velde in gesondheid en genesing kan speel. Onbevooroordeelde studies van magnetiese terapie is problematies, aangesien magnetisering maklik opgespoor kan word, byvoorbeeld deur die aantrekkingskragte op ysterbevattende voorwerpe. As gevolg hiervan, is dir moeilik om studies effektief te dubbel-verblind (waar nie pasiënte of ondersoekers weet wie behandeling ontvang en wie die plasebo nie).[14] Onvolledige of onvoldoende verblinding van die studie is geneig om die behandelingseffekte te oordryf, veral waar sulke effekte klein is.[15] Gesondheidseise rakende langlewendheid en kankerbehandeling is onwaarskynlik en word nie deur enige navorsing ondersteun nie.[8][16] Meer alledaagse gesondheidsbewerings, meestal oor anekdotiese pynverligting, ontbreek ook enige geloofwaardige voorgestelde meganisme en kliniese navorsing is nie belowend nie.[17][18]

Die Amerikaanse Kankervereniging verklaar dat "beskikbare wetenskaplike bewyse hierdie bewerings nie ondersteun nie".[1] Volgens die Nasionale Sentrum vir Aanvullende en Integrerende Gesondheid in Amerika het studies van magnetiese juweliersware nie bewysbare effekte op pyn, senuweefunksie, selgroei of bloedvloei getoon nie.[19]

Veiligheid

Hierdie toestelle word gewoonlik op sigself as veilig beskou, alhoewel daar groot finansiële en geleentheidskoste kan wees vir magneetterapie, veral as behandeling of diagnose vermy of vertraag word.[16][17]

Magneetterapie in Suid-Afrika

Magneetterapie is vrylik beskikbaar in Suid-Afrika. Daar is verskillende "natuurlike genesings"-webwerwe wat hierdie soort terapie aanbied[20] en die magnetiese toestelle is beskikbaar by baie winkels en aanlynverkope.[21][22][23] Hoofstroom mediese verskaffers bied niks hiervan aan nie, maar bied wel transkraniale magnetiese stimulasie, 'n wetenskaplik-geldige vorm van terapie, aan. [24]

Verwysings