Lensvormige sterrestelsel

’n Lensvormige sterrestelsel is tussen ’n elliptiese en spiraalsterrestelsel volgens Edwin Hubble se klassifikasie.[1] Hulle het ’n skyf (soos spiraalstelsels) wat die meeste van hul interstellêre materiaal opgebruik of verloor het en dus baie min stervorming handhaaf.[2] Hulle kan egter ’n aansienlike hoeveelheid stof in hul skyf oorhê. Daarom het hulle meestal ouer sterre (soos elliptiese stelsels) – hul sterre is gewoonlik meer as ’n miljard jaar oud.

Die Spil-sterrestelsel (NGC 5866), ’n lensvormige sterrestelsel in die sterrebeeld Draak. (Bron:Nasa/ESA)

Vorm en struktuur

Klassifikasie

Lensvormige sterrestelsels is uniek omdat hulle ’n sigbare skyf en prominente bol het. Nes elliptiese en spiraalstelsels kan hulle ook ’n sentrale staaf hê. Hulle het nie so baie vorms soos byvoorbeeld spiraalstelsels nie en daarom word hulle geklassifiseer volgens die hoeveelheid stof wat teenwoordig is of die teenwoordigheid of afwesigheid van ’n sentrale staaf. Die verskillende klasse is S01, S02 en S03 wanneer dit gebaseer is op die hoeveelheid stof in die skyf en SB01, SB02 en SB03 wanneer dit op die sentrale staaf gebaseer is.[3]

Bolswerms word meer dikwels in lensvormige sterrestelsels aangetref as in spiraalstelsels met dieselfde massa en helderheid.

Vormingsteorieë

Spiraalstelsel-oorblyfsels

Die vorm en beweging van lensvormige stelsels gee in ’n mate ’n aanduiding van hoe hulle gevorm word. Hul skyf en moontlike stowwerige voorkoms dui aan dat hulle spiraalstelsels kan wees waarvan die arms verdwyn het. Die afwesigheid van gas, teenwoordigheid van stof en die gebrek aan onlangse stervorming is alles eienskappe wat ’n mens van ’n spiraalstelsel sal verwag wat al sy gas vir die vorming van nuwe sterre opgebruik het.[4] Moore en ander meen ook dat swaartekraginvloede van ander, nabygeleë sterrestelsels, die proses in digte gebiede kan aanhelp.[5]

Samesmeltings

Lensvormige stelsels is egter helderder as spiraalstelsels,[6][7] wat daarop dui dat hulle waarskynlik nie oorblyfsels van laasgenoemde is nie. Dit lyk eerder of hulle ontstaan deur die samesmelting van twee stelsels, wat die totale stermassa vergroot en die nuwe stelsel sy skyfagtige, armlose voorkoms gee.[4] Dit verduidelik ook die voorkoms van groot hoeveelhede bolswerms in dié stelsels. Dié teorie het egter ook tekortkomings wat nog nie bevredigend opgelos is nie.

Voorbeeld

Die Wawiel-sterrestelsel in die sterrebeeld Beeldhouer.
  • Die Wawiel-sterrestelsel, sowat 500 miljoen ligjare van die Aarde af
  • IC 1101, die grootste bekende sterrestelsel
  • NGC 2787, ’n lensvormige stelsel met ’n sentrale staaf

Verwysings