Humor (medies)

Die vier humores (enkelvoud: humor) is deel van ’n mediese stelsel wat deur geneeshere in Antieke Griekeland en Antieke Rome aanvaar is. Dit verduidelik die werking van die liggaam aan die hand van vier vloeistowwe (humores): bloed, slym, geel gal en swart gal. Dié benadering word "humorale patologie" genoem.

Die vier humores.

Te veel of te min van enige van die vier vloeistowwe sou volgens die antieke dokters ’n direkte invloed op die mens se temperament en gesondheid hê. Dit is baie individualisties, want elke mens het glo sy eie besondere humorale samestelling gehad.[1] Dit het ’n holistiese benadering gehad, want die verband tussen die geestelike en fisieke prosesse is benadruk deur hierdie raamwerk.[2] Die model is aanvaar deur van Hippokrates tot ander Griekse, Romeinse en Persiese geneeshere en was die aanvaarde siening van die menslike liggaam tot met die ontwikkeling van moderne mediese navorsing in die 19de eeu.

Vier humores

Die teorie bepaal basies dat wanneer die vier humores in ewewig was, die persoon gesond was. Alle siektes en gestremdhede het ontstaan weens ’n wanbalans van hierdie vloeistowwe. Daar is geglo die tekort of oorvloed van die humores word veroorsaak deur die inaseming van dampe of die opneem daarvan deur die liggaam. Dokters het geglo elk van die humores neem toe of af in die liggaam na gelang van die persoon se dieet en aktiwiteite. Dit was verwant aan die teorie van die klassieke vier elemente: aarde, vuur, water en lug; elk het een van die humores verteenwoordig: die aarde die swart gal, vuur die geel gal en water die slym, met al vier elemente teenwoordig in die bloed.[3]

Die woord "humor" is ’n vertaling van die Griekse χυμός,[4] chymos (letterlik "sap").

Die volgende tabel wys die vier humores met hul ooreenstemmende elemente, seisoene, plek van ontstaan en gevolglike temperamente asook hul moderne ekwivalente:[5]

HumorSeisoenElementOrgaanEienskappeAntieke naamEienskappe
Bloedlenteluglewerwarm & natsanguiniesdapper, hoopvol, amoreus
Geel galsomervuurgalblaaswarm & droogcholeriesopvlieënd, buierig
Swart galherfsaardemiltkoud & droogmelancholiesswaarmoedig, slaaploos, prikkelbaar
Slymwinterwaterbrein/longekoud & natflegmatieskalm, onemosioneel

Verwysings

Eksterne skakels