Helen Mirren

Britse aktrise

Dame Helen Lydia Mirren DBE (geb. Mironoff op 26 Julie 1945) is ’n Britse aktrise. Sy het haar loopbaan in 1967 by die Royal Shakespeare Company begin en is een van die min akteurs wat drie van die volgende vier pryse gewen het: die Oscar, Emmy, Grammy en Tony. Sy het die Oscar vir beste aktrise in 2007 ontvang vir haar rol as koningin Elizabeth II in The Queen. In 2015 het sy die Tony gewen vir beste aktrise in ’n toneelstuk[1] vir haar rol, ook as Elizabeth II, in The Audience.[2] In 1993 het sy die eerste van verskeie Emmys gewen vir haar rol as speurder Jane Tennison in die ITV-reeks Prime Suspect.

Helen Mirren
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Mirren op 7 Desember 2014 by die Moët British Independent Film Awards.

GeboortenaamHelen Lydia Mironoff
Geboorte26 Julie 1945 (1945-07-26) (78 jaar oud)
Londen, Engeland
NasionaliteitBrits
Beroep(e)Aktrise
Aktiewe jare1965–tans
Webwerfhttp://www.helenmirrenofficial.com
ToekenningsOrde van die Britse Ryk
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Van haar ander noemenswaardige rolle was in die 1984-rolprent Cal, waarvoor sy ’n Cannes-prys gewen het, The Cook, the Thief, His Wife & Her Lover (1989), The Madness of King George (1994), Teaching Mrs. Tingle (1999), Gosford Park (2001), Calendar Girls (2003), The Last Station (2009), Hitchcock (2012) en The Hundred-Foot Journey (2014). Sy het ook die rol van Victoria Winslow vertolk in die aksiekomedies Red en Red 2.

In 2003 het sy ’n Damekommandeur van die Britse Ryk (DBE) geword vir haar werk in die uitvoerende kunste.[3] In 2013 het sy ’n ster op die Hollywood Walk of Fame gekry[4] en in 2014 het Bafta aangekondig dat sy die ontvanger van die Academy Fellowship is.[5]

Vroeë lewe en familie

Sy is in Hammersmith, Londen, gebore as Helen Lydia Mironoff,[6][7] dogter van Vasily Petrovich Mironoff en Kathleen "Kitty" Rogers. Haar ma was Engels en haar pa Russies. Hy was oorspronklik van Koerjanowo in Smolensk-oblast, Rusland.[8] Haar oupa aan vaderskant, kolonel Pjotr Wasilijewitsj Mironof, was in die keiserlike Russiese leër en het in die Russies-Japannese Oorlog van 1904 geveg. Hy het later ’n diplomaat geword en was besig met wapenonderhandelings in Brittanje toe die Russiese Rewolusie in 1917 uitbreek en hy en sy gesin in Brittanje gestrand sit.[9] Die voormalige diplomaat het ’n taxibestuurder in Londen geword om sy gesin te onderhou en het hom eindelik in Engeland gevestig. Hy het sy van Mironoff gespel.

Sy seun, Helen se pa, het hul van in die 1950's tot Mirren verengels en sy naam na Basil Mirren verander. Hy het die viola in die Londense Filharmoniese Orkes bespeel voor die Tweede Wêreldoorlog en later ’n taxi bestuur voordat hy ’n staatsdienswerker geword het. Mirren se ma was van die Ooseinde, die 13de van 14 kinders van ’n slagter wie se eie pa koningin Victoria se slagter was. Mirren beskou haar opvoeding as "baie antimonargisties".[10]

Mirren was die tweede van drie kinders. Sy het in Leigh-on-Sea, Essex, grootgeword.[11]

Loopbaan

Vroeë werk

Nadat Mirren haar skoolloopbaan en studie aan ’n onderwyserskollege in Londen voltooi het, is sy in die National Youth Theatre (NYT) aanvaar. Danksy haar werk hier is sy genooi om by die Royal Shakespeare Company aan te sluit. In 1970 het die regisseur/vervaardiger John Goldschmidt ’n dokumentêre rolprent, Doing Her Own Thing, gemaak oor Mirren tydens haar tyd by die Royal Shakespeare Company; dit is in Brittanje op televisie gewys.

Teater

Mirren by die Orange British Academy Film Awards, 2007.

Van November 1975 af het Mirren in verskeie produksies in die Weseinde gespeel. Ná ’n redelik onsuksesvolle poging tot ’n loopbaan in Amerika het sy na Brittanje teruggekeer en weer in verskeie Britse produksies opgetree. Op 15 Februarie 2013 het sy in die Gielgud-teater die rol begin vertolk van koningin Elizabeth II in die wêreldpremière van Peter Morgan se The Audience.[12] In April is sy by die Olivierprys-toekenningsaand aangewys as beste aktrise vir dié rol.[13]

Nog ’n verhoogdeurbraak het in 1994 in die Weseinde gevolg, as Natalja Petrowna in Iwan Toergjenef se A Month in the Country. Haar mede-akteurs was John Hurt en Joseph Fiennes. Sy is twee keer benoem vir ’n Tony vir die rol. Op 7 Junie 2015 het sy die Tony gewen vir haar vertolking van koningin Elizabeth II in The Audience.

Rolprente

Mirren op 22 Julie 2010 by die Comic Con in San Diego.

Mirren het in haar loopbaan in talle rolprente gespeel. Van haar vroeëre optredes sluit in rolle in A Midsummer Night's Dream (1968), Age of Consent, O Lucky Man!, Caligula, Excalibur, 2010, The Long Good Friday, White Nights, The Mosquito Coast en The Madness of King George.

Meer onlangs het sy gespeel in Gosford Park saam met Maggie Smith en in Calendar Girls saam met Julie Walters, asook in The Clearing, Pride, Raising Helen en Shadowboxer. Sy het ook die stem verskaf vir verskeie rolprentrolle. Tydens haar loopbaan het sy drie Engelse koninginne in verskillende rolprente en TV-reekse vertolk: Elizabeth I in die TV-reeks Elizabeth I (2005), Elizabeth II in The Queen (2006) en Charlotte van Mecklenburg-Strelitz, vrou van George III, in The Madness of King George (1994). Sy is die enigste aktrise wat albei koninginne Elizabeth op die silwerdoek uitgebeeld het.

Mirren ontvang haar ster op die Hollywood Walk of Fame in Januarie 2013.

Mirren het verskeie pryse gewen vir haar naamrol in The Queen, onder meer ’n Bafta, Golden Globe en Oscar. Sy het Alfred Hitchcock se vrou gespeel in die 2012-prent Hitchcock, oor die maak van die 1960-prent Psycho.[14]

In 2014 het sy saam met die Indiese akteur Om Puri verskyn in die komediedrama The Hundred-Foot Journey en in 2015 saam met Ryan Reynolds in Woman in Gold.[15] Laasgenoemde prent het gemengde reaksie uitgelok, hoewel Mirren en Reynold se spel geloof is.[16] Sy was ook Hedda Hopper, die bekende aktrise en skinderrubriekskrywer, in die 2015-biografiedrama Trumbo.

Televisie

Mirren is bekend vir haar rol as speurder Jane Tennison in die gewilde Prime Suspect, ’n televisiedramareeks wat verskeie pryse gewen het. Vir haar vertolking van Tennison het sy tussen 1992 en 1994 drie agtereenvolgende Bafta-pryse ontvang.[17] Sy het ook talle ander TV-rolle vertolk, onder meer in Cousin Bette (1971); As You Like It (1979); The Twilight Zone (1985); The Passion of Ayn Rand (1999), waarvoor sy ’n Emmy en Golden Globe gewen het; en The Collection, saam met Laurence Olivier, Alan Bates en Malcolm McDowell. Sy was Elizabeth I in Elizabeth I (2005), waarvoor sy ’n Emmy gewen het. Haar ander vertolking waarvoor sy ’n Emmy gekry het, was in Prime Suspect: The Final Act (2006).

Persoonlike lewe

Mirren het in die vroeë 1980's saam met die akteur Liam Neeson gewoon. Sy is op 31 Desember 1997, op sy 53ste verjaardag, getroud met haar lewensmaat sedert 1986, die regisseur Taylor Hackford.[18] Hulle het op die stel van die rolprent White Nights ontmoet. Dit is haar eerste huwelik en sy derde.

Mirren se outobiografie, In the Frame: My Life in Words and Pictures, is in September 2007 in Brittanje gepubliseer.[19]

Filmografie

Roprente en televisiewerk
JaarTitelRolNotas
1966Press for TimePenelope SquiresGeen erkenning
1967Herostratus
1968A Midsummer Night's DreamHermia
1969Age of ConsentCora Ryan
1970Red Hot Shot
1972Savage MessiahGosh Boyle
Miss JulieMiss Julie
1973O Lucky Man!Patricia
1975Caesar and ClarettaClaretta Petacci
1976HamletOphelia/Gertrude
1978As You Like ItRosalindBBC Television Shakespeare
1979The Quiz KidJoanne’n Deel van ITV Playhouse
S.O.S. TitanicMary SloanTV-fliek
CaligulaCaesonia
1980HussyBeaty
The Fiendish Plot of Dr. Fu ManchuAlice Rage
The Long Good FridayVictoria
1981ExcaliburMorgana
1984CalMarcella
2010Tanya Kirbuk
Faerie Tale Theatre: "The Little Mermaid"Prinses AmeliaTV-reeks, episode 1
1985Heavenly PursuitsRuth Chancellor
Coming ThroughFrieda von Richthofen Weekley
White NightsGalina Ivanova
1986The Mosquito CoastMother Fox
1988Pascali's IslandLydia Neuman
1989When the Whales CameClemmie Jenkins
The Cook, the Thief, His Wife & Her LoverGeorgina Spica
Red King, White KnightAnnaTV-fliek
1990Bethune: The Making of a HeroFrances Penny Bethune
The Comfort of StrangersCaroline
1991Prime SuspectJane TennisonTV-reeks
Where Angels Fear to TreadLilia Herriton
1993The HawkAnnie Marsh
Royal DeceitGeruth
1994The Madness of King GeorgeKoningin Charlotte
1995The Snow QueenSnow Queen(stem)
1996Some Mother's SonKathleen QuigleyOok medevervaardiger
Losing ChaseChase PhillipsTV
1997Critical CareStella
1998Sidoglio SmitheeHaarself
Tracey Takes On...Professor HorenTV-reeks: episode 1
The Prince of EgyptDie koningin(stem)
1999The Passion of Ayn RandAyn Rand
Teaching Mrs. TingleEve Tingle
2000GreenfingersGeorgina Woodhouse
2001The PledgeDokter
No Such ThingThe Boss
Happy BirthdayOok regisseur
Last OrdersAmy
Gosford ParkMev. Wilson
2002Door to DoorMev. PorterTV
GeorgetownAnnabelle GarrisonTV
2003The Roman Spring of Mrs. StoneKaren StoneTV
Calendar GirlsChris Harper
2004The ClearingEileen Hayes
Raising HelenDominique
2005The Hitchhiker's Guide to the GalaxyDeep Thought(stem)
Elizabeth IKoningin Elizabeth I
ShadowboxerRose
2006The QueenKoningin Elizabeth II
2007National Treasure: Book of SecretsEmily Appleton
2008'Elinor Loredan
2009State of PlayCameron Lynne
The Last StationSofia Tolstaja
2010Love RanchGrace Bontempo
The TempestProspera
Brighton RockIda
RedVictoria Winslow
Legend of the Guardians: The Owls of Ga'HooleNyra(stem)
Saturday Night LiveHaarselfTV (kameerol)
2011ArthurLillian Hobson
Saturday Night LiveHaarself (aanbieder)TV
The DebtRachel Singer
2012The DoorEmerenc
GleeStem van Becky JacksonTV (geen erkenning)
HitchcockAlma Reville
2013Phil SpectorLinda Kenney BadenTV-fliek
Monsters UniversityDean HardscrabbleStemrol
Red 2Victoria Winslow
2014The Hundred-Foot JourneyMadame Mallory
2015Woman in GoldMaria Altmann
UnityVertellerDokumentêr
Eye in the SkyKol. Katherine Powell
TrumboHedda Hopper

Verwysings

Verdere leesstof

  • Command Performance, ’n profiel van Helen Mirren deur John Lahr in The New Yorker, 2 Oktober 2006
  • In the Frame: My Life in Words and Pictures (outobiografie) deur Helen Mirren, Weidenfeld and Nicholson, 2007 ISBN 978-0-297-85197-4.

Eksterne skakels