Halloumi

Halloumi (IFA: /ħalˈluːmi/; Grieks: χαλλούμι; Arabies: حلوم ḥallūm) is ’n halfsagte, onverouderde, gepekelde kaas van Siprus wat van ’n mengsel van bok- en skaapmelk, en soms koeimelk, gemaak word.[1][2][3] Dit het ’n hoë smeltpunt en kan dus maklik gebraai of gerooster word.

Halloumi
Vars gesnyde halloumi.
Vars gesnyde halloumi.
Oorsprong Siprus/Levant
Melkbron Bokke, skape, soms koeie
Eienskappe
Gepasteuriseer Kommersiële kase
Tekstuur Halfsag
Veroudering Nie kommersieel nie
Voedingswaarde (per 100 g)
Vetinhoud 26,9 g
Proteïen 21,2 g
Koolhidrate 2,2 g
Energie 1 406,7 kJ

Halloumi word met stremsel verhard[4] en is ongewoon in die sin dat geen suur of suurvervaardigende bakterie gebruik word in die bereiding daarvan nie.[5] Die kaas is veral gewild in Siprus, die Levant, Griekeland, Turkye en Brittanje.[6][7][8]

Etimologie

Die naam "halloumi" is afgelei van die Egipties-Arabiese woord, wat weer kom van die Koptiese halom of alom ("kaas"), wat verwys na ’n kaas wat in die Middeleeue in Egipte geëet is.[9][10] In moderne Egipte is hâlûmi soortgelyk aan die Sipriotiese "halloumi"; dit word óf vars óf gepekel en gekruie geëet.

Gebraaide halloumi.

Volgens streek

Siprus

Halloumi het in die tyd van die Middeleeuse Bisantium (395-1191) in Siprus ontstaan[6][11] en is daarna regdeur die Midde-Ooste geëet.

Die kaas is wit en het ’n kenmerkende laagtekstuur, soortgelyk aan mozzarella. Dit het ’n sout smaak. Dit word in sy natuurlike vloeistof met soutwater gebêre en kan tot ’n jaar hou as dit benede -18 °C gestoor word. Dit word met mentblare verkoop omdat dit dan varser en geuriger bly.

Midde-Ooste

Halloumi word gereeld geëet in baie dele van die Levant soos Libanon, Turkye, Sirië, Palestina, Jordanië, Israel, Egipte en Irak. Dit is gewild vir ontbyt saam met geregte soos hummus, falafel en khubz. In Israel word dit soms in olyfolie gebraai en vir ontbyt voorgesit saam met meze. Dit word ook saam met vis geëet.

Verwysings

Eksterne skakels