Groothertog Nikolaas Aleksandrowitsj van Rusland

Hierdie naam is volgens die Oos-Slawiese gebruik; die patroniem is Aleksandrowitsj en die van is Romanof.

Nikolaas Aleksandrowitsj
Groothertog

HuisRomanof
VaderAleksander II van Rusland
MoederPrinses Marie van Hesse-Darmstadt
Gebore20 September [O.S. 8 September] 1843,
Tsarskoje Selo, Russiese Ryk
Oorlede24 April [O.S. 12 April] 1865,
Nice, Frankryk

Groothertog Nikolaas Aleksandrowitsj (Russies: Николай Александрович; 20 September [O.S. 8 September] 1843 – 24 April [O.S. 12 April] 1865) was van 2 Maart 1855 tot met sy dood in 1865 die tsesarewitsj (troonopvolger) en ’n groothertog van Rusland.

Vroeë lewe

Tsesarewitsj Nikolaas en prinses Dagmar van Denemarke se verlowingsfoto, 1864.

Die oudste seun van Nikolaas I van Rusland se seun Aleksander en sy vrou, prinses Marie van Hesse-Darmstadt, is op Tsarskoje Selo gebore en "Niksa" genoem. Sy oupa aan vaderskant is in 1855 oorlede en sy pa het keiser Alexander II geword.

Verlowing

In die somer van 1864 het Nikolaas verloof geraak aan prinses Dagmar van Denemarke, die tweede oudste dogter van koning Christiaan IX en ’n jonger suster van Alexandra, die Prinses van Wallis, die vrou van die Britse troonopvolger.

Dood

Tot in 1865 is geglo Nikolaas het ’n sterk gestel, maar vroeg in dié jaar het hy op ’n toer deur Suid-Europa ’n siekte opgedoen wat aanvanklik verkeerdelik as rumatiek gediagnoseer is. Hy het gekla van ’n seer rug en stywe nek, asook ’n sensitiwiteit vir lig en ’n geraas. Hy het nie gedink dit is ernstig nie en het sy toer deur Italië voortgesit.

Sy gesondheid het vinnig agteruitgegaan en hy is na Suid-Frankryk gestuur, maar hy het nie verbeter nie. Daar is eindelik vasgestel hy ly aan serebro-spinale meningitis, wat hy dalk as kind opgedoen het nadat hy in ’n stoeigeveg neergegooi is.[1] In die lente van 1865 het hy verder agteruitgegaan en op 24 April 1865 is hy in Nice, Frankryk, oorlede.

Nikolaas het op sy sterfbed vermoedelik die wens uitgespreek dat sy verloofde met sy jonger broer en opvolger, tsesarewitsj Aleksander, trou; in 1866 is die twee in die huwelik bevestig.[2] Aleksander het later Aleksander III van Rusland geword.

Sien ook

Verwysings

Bronne