Eudikotiel
Die eudikotiele, of Eudicotidae, is ’n monofiletiese klade blomplante wat die meeste plante omvat wat voorheen onder "tweesaadlobbige plante" (dikotiele) ingedeel is. Die term is in 1991 voorgestel deur die plantkundige James A. Doyle en die paleoplantkundige Carol L. Hotton om klem te lê op die latere evolusionêre splitsing van stuifmeelkorrels met drie kiemopeninge van dié van ander tweesaadlobbige plante.[1]
Eudikotiel | |
---|---|
![]() | |
Primula hortensis, ’n eudikotiel. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Divisie: |
Beskrywing
![](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/c/ca/Arabis_voch1-4.jpg/220px-Arabis_voch1-4.jpg)
Die term beteken "ware tweesaadlobbige plante", want dit omvat die meeste plante wat voorheen as tweesaadlobbig beskou is. Dit word sedertdien algemeen aanvaar in plantkunde om te verwys na een van die twee grootste klades bedeksadiges (meer as 70% van die bedeksadige spesies). Die ander klade is eensaadlobbige plante (monokotiele). Die oorblywende bedeksadiges word soms "basale bedeksadiges" of "paleodikotiele" genoem, maar dié terme word nog nie algemeen aanvaar nie omdat hulle nie na ’n monofiletiese groep verwys nie.
Die ander naam van die eudikotiele is trikolpate, wat verwys na die drie kiemopeninge van die stuifmeelkorrels. In teenstelling daarmee het die meeste ander bedeksadiges, die monokotiele en paleodikotiele, se stuifmeelkorrels net een kiemopening. Die term trikolpate word deur sommige plantkundiges verkies om verwarring te voorkom met die dikotiele, ’n nie-monofiletiese groep.[2]
Talle bekende plante is eudikotiele, insluitende baie voedselplante, bome en sierplante soos die sonneblom, perdeblom, vergeet-my-nie, kool appel, botterblom en esdoring.
Die naam "eudikotiele" word gebruik in die APG-stelsel van 1998 en die APG II-stelsel van 2003 vir die klassifikasie van bedeksadiges. Dit is ’n klade, ’n monofiletiese groep, wat die meeste van die plante insluit wat voorheen tweesaadlobbig genoem is.
Verwysings
Eksterne skakels
- Eudikotiele Geargiveer 24 Junie 2013 op Wayback Machine, "Tree of Life Web Project"
- Dikotele Geargiveer 24 Februarie 2015 op Wayback Machine, plantlewensvorme
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Eudikotiel.
Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia