Deepwater Horizon-oliestorting

Die Deepwater Horizon-oliestorting is 'n katastrofiese oliestorting in die Golf van Meksiko en word as die grootste oliestorting in die VSA se geskiedenis beskou.[1] Die olie kom uit die seebodem uit 'n boorgat wat oopgebreek het na 'n ontploffing op die Deepwater Horizon olieboorplatform op 20 April 2010. Die ontploffing het die dood van 11 werkers op die platform veroorsaak en 'n verdere 17 werkers is beseer. 98 Mense het die ongeluk oorleef sonder enige ernstige beserings.[2]

Brand op die Deepwater Horizon
Lugfoto van die besoedelde gebied.
Olie word van 'n besmeerde voël afgewas.

Die olielek is sowat 1500 meter onder die seevlak. Beramings van die hoeveelheid olie wat gestort word wissel van BP se huidige beraming van 5000 vate per dag tot soveel as 100 000 vate ru-olie per dag. Die presiese vloeitempo is onseker – deels omdat BP geweier het om onafhanklike wetenskaplikes toe te laat om akkurate metings te neem – en is steeds 'n omstrede besprekingspunt.[3] Die oliekol op die oppervlak beslaan 'n gebied van 6500 vierkante kilometer met die omvang daarvan wat daagliks wissel afhangende van die weerstoestande.[4] Wetenskaplikes het ook enorme onderwater oliepluime ontdek wat nie vanaf die oppervlak sigbaar is nie.

BP (voorheen British Petroleum) is die operateur en hoofontwikkelaar van die Macondo Prospect olieveld, wat na raming sowat 50 miljoen vate ru-olie bevat.[5] BP met 'n 65% aandeel is die hoof aandeelhouer. Anadarko Petroleum Corporation en 'n filiaal van Mitsui is ook noemenswaardige aandeelhouers. BP het die Deepwater Horizon boorplatform gehuur van die maatskappy Transocean.[6]

Die V.S.A regering het BP as die verantwoordelike party vir die insident uitgewys en amptenare het aangedui dat hulle die maatskappy verantwoordelik gaan hou vir al die skoonmaakkostes wat spruit uit die oliestorting.[7][8] BP het verantwoordelikheid aanvaar vir die oliestorting en skoonmaakkostes maar het aangedui dat hulle nie blaam dra vir die ongeluk nie aangesien die platform deur Transocean personeel bedryf is.[9] Hierdie insident is die derde ernstige ongeluk by 'n BP-bestuurde aanleg in die V.S.A die afgelope vyf jaar. Dit volg op die Texas City Raffinadery-ontploffing in 2005 en die Prudhoe Bay-oliestorting in 2006. Hierdie vorige insidente is toegeskryf aan swak veiligheids- en bestuursmaatreëls en het daartoe bygedra dat BP se aansien en markwaarde aansienlike skade gely het.[10][11]

Op 12 Julie 2010 het 'n onderwaterrobot 'n nuwe kap oor die lekkende oliebron geplaas. Die kap se kleppe is oor 'n paar dae gesluit, die laaste op Donderdag, 15 Julie. In die eerste 48 uur na die sluiting blyk dit asof geen olie meer uit die bron (of elders) ontsnap nie.

Verwysings