Andrew Mlangeni

Andrew Mlangeni (6 Mei 1925 – 21 Julie 2020) was een van die agt mans wat in die Rivonia-verhoor aan sabotasie skuldig bevind en lewenslank tronk toe gestuur is.[1] Hy is saam met Nelson Mandela op Robbeneiland aangehou, maar is vrygelaat nadat die destydse regering en die ANC met samesprekings begin het.

Andrew Mlangeni

Persoonlike besonderhede
Gebore(1925-05-06)6 Mei 1925
Bethlehem, Oranje-Vrystaat, Unie van Suid-Afrika
Sterf21 Julie 2020 (op 95)
Pretoria, Suid-Afrika
Politieke partyAfrican National Congress
Eggenoot/-noteJune Ledwaba (1950–2001; haar dood)
Kind(ers)4

Biografie

Andrew Mokete Mlangeni is op 6 Mei 1925 in Bethlehem gebore. Hy was die negende kind in 'n familie van veertien. Sy vader is in 1936 oorlede, kort nadat sy moeder aan 'n tweeling geboorte geskenk het. Mlangeni begin sy skoolloopbaan op 10, maar op 12 begin hy by 'n gholfbaan in Johannesburg werk om sy familie te ondersteun. In 1942 help sy ouer broer hom met skoolgeld en hy behaal sy Junior Sertifikaat in 1946.

Na 1946 werk hy in verskeie industrieë en fabrieke. Hy sluit in 1951 by die ANC-jeugliga en in 1954 by die ANC aan. Tydens die sogenaamde "Congress of the People" in 1955 in Kliptown was hy 'n takverteenwoordiger. Vanaf 1958 tot 1960 is hy 'n ANC-kampvegter en in 1961 was hy een van die eerstes om vir militêre opleiding in die buiteland gestuur te word. Met sy terugkeer in 1963 is hy in hegtenis geneem vir die werwing en opleiding van 'n gewapende mag. Hy is skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis.[2]

Dood

Mlangeni sterf op 21 Julie 2020 in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria nadat hy van maagongesteldheid gekla het. Hy was 95 jaar oud en die laaste oorlewende gevangene van die Rivonia-verhoor. President Cyril Ramaphosa het sy meegevoel namens die regering uitgespreek: "The passing of Andrew Mokete Mlangeni signifies the end of a generational history and places our future squarely in our hands".[3]
Hy is tydens 'n staatsbegrafnis op 29 Julie 2020 te ruste gelê in die Roodepoortse begraafplaas langs sy oorlede vrou June.

Verwysings