Alexios IV Angelos

Alexios IV Angelos (Grieks: Αλέξιος Δ' Άγγελος; omstreeks 1182 - 8 Februarie 1204) was van Augustus 1203 tot Januarie 1204 keiser van die Bisantynse Ryk. Hy was die seun van keiser Isak II en die opvolger van sy oom, Alexios III Angelos.

Alexios IV Angelos
Keiser van die Bisantynse Ryk
’n Miniatuurportret van Alexios IV.
’n Miniatuurportret van Alexios IV.
Bewind1 Augustus 1203 - 5 Februarie 1204
MedekeiserIsak II Angelos
VoorgangerAlexios III Angelos
OpvolgerAlexios V Doukas
GeboreOmstreeks 1182
Oorlede8 Februarie 1204 (op 21 of 22)
DinastieAngelos
VaderIsak II Angelos
MoederIrene Palaiologos
GodsdiensOosters-Ortodoks

Prins in bannelingskap

Die jong Alexios is in 1195 gevange geneem toe sy oom, Alexios III, sy pa, Isak II, se bewind omverwerp. In 1201 het Alexios na die Heilige Romeinse Ryk ontsnap. Hier het hy die soldate wat vir die Vierde Kruistog bymekaargekom het, se hulp gevra om sy oom van die troon te sit en Alexios te help om keiser te word. Hy het beloof om die kerkskeuring tussen die ooste en die weste te beëindig, vir die Kruisvaarders se vervoer na Egipte te betaal en militêre steun te verskaf.[1]

Die Kruisvaarders het hul bestemming van Egipte na Konstantinopel verander en in Junie 1203 daar aangekom. Hulle het Alexios IV tot keiser verklaar. Alexios III het met soveel goud as wat hy kon bymekaarmaak, in ’n boot na Thracië gevlug. Isak II, swak ná agt jaar in aanhouding, is ook as keiser herstel met Alexios IV in beheer.

Bewind

Alexios IV kon nie sy beloftes aan die Kruisvaarders nakom nie omdat hy blykbaar nie besef het hoe die ryk die vorige 50 jaar finansieel agteruitgegaan het nie. Die vyandelikheid tussen die Kruisvaarders en die inwoners van Konstantinopel het al hoe verder versleg. Intussen het Alexios baie ongewild geraak onder die inwoners. Begin Januarie 1204 het Alexios IV wraak teen die Kruisvaarders probeer neem deur 17 skepe met ontvlambare materiaal aan die brand te laat steek en dit teen die Venesiese skepe te laat bots, maar sy poging het misluk.[2]

Einde Januarie het die inwoners van Konstantinopel in opstand begin kom en probeer om ’n ander keiser te kies. Alexios IV het probeer om met die Kruisvaarders te versoen en het sy amptenaar Alexios Doukas Mourtzouphlos aangestel om hul steun te werf. Alexios Doukas het Alexios IV en sy pa egter op die nag van 17 op 18 Januarie 1204 gevange geneem. Isak II is kort daarna dood en Alexios IV is op 8 Februarie verwurg. Alexios Doukas is tot keiser Alexios V verklaar.

Verwysings